die boesman se alfabet is geskryf in sy lyf
die letters praat en roer
die letters beweeg die boesman se liggaam
hy beveel al die ander om stil te bly
hy self is absoluut volkome stil
dan voel hy sy liggaam saggies aan die binnekant klop
’n droom praat vals
’n droom kan jou mislei
maar die voorgevoel is dit wat die waarheid praat
die kloppende gewaarwording wat sê: iemand is aan die kom
veral die geklop in ’n wond
as jy loop en die wond begin klop
kan jy die kinders stuur om te gaan kyk
Oupa is in die voetpad op pad na jou toe
dit voel jy in die wond
die wond sê dit aan jou
of as jou ribbes begin klop
dan vat jy jou pyle
want jy voel die swart haartjies op die springbok se ribbes
as jy Brinkkop uitklim
kyk goed tussen die bome
en die groen spruitjies
want die springbok het jy reeds met jou lyf gesien
dan voel jy hoe bloed by jou dye en kuite afloop
asof jy reeds die springbok op jou rug dra
asof die springbok reeds langs jou dye af bloei
daarom wag ek altyd stilweg vir die woorde van my lyf
ek voel in my voete
hoe diere om die hut snuffel
ek voel aan my skedel as ons die horings van die hartebees afkap
ek kry ’n gevoelente van my voorkop af al met die neus langs
soos die donker vlek na die springbok se snoet
ek voel my oë uitswel soos die vlekke om die springbok se oë
as ek iets voel kriewel soos vlooie
weet ek my lyf het ’n volstruis [struisvogel] gesien
ons lê voor die hut
ons lê teen die uitgestrekte Brinkkopberge
dit lyk asof ons slaap
asof ons dut
maar ons lees ons liggame
ons voel alles wat op die pleine beweeg wat verby die hutte trek
die holtes agter ons knieë kry ’n gevoel
en dan wag ons
en dan kom al die dinge na ons toe